Splinternuwe jassie vir Argo

Tractor Manufacturer Opens State-of-the-art facility in SA
14 July 2022
Service Kit Promotion – 5% Additional Discount
1 August 2022

Argo Tractors Suid-Afrika vier die opening van ’n splinternuwe, moderne aanleg in Kempton Park, Gauteng.

 

“Die aanvanklike baanbrekerswerk het op 1 Junie 2021 begin en vandag, een jaar later, het ons die voorreg om die nuwe aanleg, wat ook die nuwe hoofkwartier van Argo Tractors in Suid-Afrika sal wees, amptelik te open,” het mnr. Godfried Heydenrych, besturende direkteur van ARGO Tractors SA, gesê op die openingseremonie.

Hy het gesê die aanleg is strategies geposisioneer om aan die voortdurende eise van produsente reg oor Suider-Afrika te voldoen.

“Ek glo hierdie nuwe aanleg sal dien om uitstekende diens aan ons klante te lewer. Hierdie belegging toon nie net ons toewyding aan streekslandbou nie, maar wys ook ons ambisie om die behoeftes van ons klante doeltreffend te takel en tegnologie wat aan die voorpunt staan te gebruik om opbrengste te help verhoog, lewensbestaan te verbeter en volgehoue voedselproduksie te verseker.”

Hy het bygevoeg dat hierdie moderne aanleg die tuiste van ‘n gevorderde opleidingsentrum sal wees wat die nodige tegniese ondersteuning aan Argo se handelaarsnetwerk sal verskaf. “Die gebou is spesifiek ontwerp en gebou om aan die groeiende behoeftes van die Argo-kliënte te voldoen en sal ’n leidende bedryfsterrein wees wat toegewy is aan hoëprestasie-produkte en -dienste en wat ons in staat sal stel om spesiale geleenthede vir ons handelaars en klante aan te bied.”

Die nuwe aanleg van 6 000 m² is in Pomona, Kempton Park. Dit het nege monteringsplekke wat gebruik sal word om trekkers en werktuie plaaslik te monteer. Dit sal verskepingskoste verminder en lokalisering en werkskepping ondersteun. Die nuutste tegnologie in landboutrekkers en toerusting sal uitgestal word in die vertoonlokaal van 700 m².

“Ons is daartoe verbind om ons klante van wêreldklas-toerusting te voorsien, wat hand aan hand loop met uitstekende diens,” het Heydenrych gesê. “Die nuwe aanleg sal ons werknemers en handelaars toerus met die ondersteuning wat hulle nodig het, nie net wat verkope betref nie, maar bowenal om klanteverhoudings en naverkopediens te laat groei. Ek glo vas dat hierdie nuwe aanleg ons in staat sal stel om voort te bou op die aansienlike vordering wat ons die afgelope jare in die trekkermark gemaak het en ons klantediens en besigheidsgroei in Afrika verder sal aandryf.

“Hierdie stap dien om ons volgehoue belegging in ons produkte, mense, geriewe en kapasiteitsbou te beklemtoon,” het Heydenrych gesê.

Me. Simeone Morra, direkteur van korporatiewe sake van Argo Tractors, het gesê: “Nou, in Suid-Afrika, gaan ons uitbreidingsprojek teen ’n bestendige pas voort, wat die aandag wat ons gee aan ’n mark wat ons as deurslaggewend beskou en waar ons ’n stewig gevestigde teenwoordigheid sedert 1999 het, bevestig. Ons is vol vertroue dat Landini- en McCormick-trekkers en verwante dienste vir ’n tegnologiese, innoverende en klantgerigte landbou steeds baie goed in Suid-Afrika ontvang sal word.”

Argo Tractors is een van die wêreldleiers in landboumeganisasie en ’n wêreldwye vervaardiger en verspreider van Landini- en McCormick-trekkers. Landini- en McCormick-trekkers is wêreldwyd twee van die bekendste en mees gerespekteerde handelsmerke in landboumeganisasie. Met soliede wortels in die spesialiswingerd-, boord-, groente- en hoëkrag-rygewassegmente is die maatskappy gereed vir ’n groot toekoms wat boere wêreldwyd ondersteun.

 

Utilizzando il sito, accetti l'utilizzo dei cookie da parte nostra. maggiori informazioni

Questo sito utilizza i cookie per fonire la migliore esperienza di navigazione possibile. Continuando a utilizzare questo sito senza modificare le impostazioni dei cookie o clicchi su "Accetta" permetti al loro utilizzo.

Chiudi